Terwyl belastingbetalers soveel geld as wat hulle verkies na die buiteland mag oordra, mits die Suid-Afrikaanse Reserwebank sy goedkeuring gee, word belastingbetalers gewaarsku dat buitelandse bates en verdienste vir belastingdoeleindes in Suid-Afrika rapporteerbaar bly. Die dae waar buitelandse besit in die geheim gehou word, is verby, aangesien die meeste jurisdiksies regoor die wêreld die bilaterale uitruil van inligting vir belastingdoeleindes steun.
Algemene verslagdoenstandaarde
Die grootste verslagdoenstandaard ter wêreld is die Common Reporting Standards (CRS) wat deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling ontwikkel is. Tans teken meer as 100 lande, insluitend Suid-Afrika, op die CRS in. Laebelasting-jurisdiksies soos die Bahamas, Guernsey en Jersey, wat gewilde beleggingsbestemmings vir Suid-Afrikaners bly, teken ook in op die CRS.
Finansiële instellings onderhewig aan hierdie verslagdoenvereistes sluit banke en trustmaatskappye in. Die CRS bepaal dat elke instelling ‘n jaarlikse beleggingsverslag vir elke Suid-Afrikaanse belastingbetaler moet opstel, wat met daardie land se belastingowerheid gedeel word en wat dan hierdie verslae aan die SAID stuur.
As ‘n SAID-amptenaar iets op ‘n CRS-verslag opmerk, sal die amptenaar gewoonlik ‘n brief aan die belastingbetaler uitreik, met die dreigende titel: “Versoek vir Inligting: Buitelandse Besit”. Die brief sal die belastingbetaler inlig dat die SAID inligting ontvang het oor hul buitelandse besit deur die Outomatiese Uitruil van Inligting met ‘n ander jurisdiksie.
Die grootste deel van die brief is vrae wat aan die belastingbetaler gerig is oor hul buitelandse besit, insluitend waar die fondse vandaan kom en of die belastingbetaler van mening is dat hulle hul Suid-Afrikaanse belastingverpligtinge nagekom het wat hierdie besit betref.
Lusbeperkings opgehef
Belastingbetalers is onlangs aangespoor deur die regering se opdrag, uitgereik in Januarie 2021, wat die beperking van lusstrukture met betrekking tot inwonende individue, maatskappye en private-ekwiteitfondse opgehef het “om inwaartse beleggings in Suid-Afrika aan te moedig”.
‘n Lusstruktuur is ‘n struktuur waar ‘n Suid-Afrikaanse inwoner in ‘n buitelandse struktuur belê wat op sy beurt in Suid-Afrikaanse bates belê. Die verslapping van die beperking beteken dat meer Suid-Afrikaners buitelandse trust- en maatskappystrukture sal ondersoek as besitentiteite vir die belastingbetaler se rykdom en/of besighede.
Suid-Afrikaners word gewaarsku dat die onderliggende motivering vir die regering se verslapping van lusbeperkings was die regering se vertroue in die belastingwette en die SAID se vermoë om belasting van hierdie strukture in te vorder. Die doeltreffendheid van die CRS beteken die regering sal nie die uitvloei van kapitaal uit Suid-Afrika keer nie, maar Jan Taks sal altyd teenwoordig wees.
Bou jou padkaart
Omdat ons ‘n top 6-belastingpraktyk ten opsigte van belastingindieningsvolumes is, is ons vertroud met baie oudits van die Inkomste-owerheid. Daar is ‘n duidelike metode vir hierdie oudits en die SAID kom beslis sy belofte na om nienakoming duur te maak. Om die proses van internasionalisering van jou bates te onderneem en geld oorsee te skuif, moet versigtig gedoen word en met ‘n goed beplande en deurdagte benadering.
Ons praktyk kommunikeer daagliks met gegoede Suid-Afrikaners en ons het ‘n gebrek aan ferm leiding en kennis raakgesien, of dit nou was van onervare adviseurs, banke, SAID-amptenare of selfs daardie vriend wat raad by ‘n braai gegee het. Vanuit ‘n finansiële en belastingperspektief kan dit ‘n nadelige impak hê en in die toekoms by jou kom spook – veral met die SAID wat kennis dra van buitelandse besit.
Belastingbetalers moet altyd ‘n belasting- en valutabeheerdeskundige raadpleeg voordat hulle enige werklike buitelandse belegging aanpak en verseker dat hulle die belegging op ‘n veilige manier voltooi – ons glo vas in ‘n raadplegende benadering en die bou van ‘n padkaart. Die goedkoopste en vinnigste roetes is op die ou end amper altyd duurder.